Moet mens vrede maak?

Hoe maak mens vrede met haar alomteen-fokken-woordigheid?

Sy was jare voor my deel van sy lewe en soos ‘n dwelm kan hulle eenvoudig net nie sonder mekaar nie.

My kop wil glo dis platonies maar ‘n vrou se hart weet!

Maak ek vrede of moeilikheid?

Staan Sterk !

Vandag moet die wag voor my mond sterk staan. My gemoed is vol en dit dreig, dreig om by my mond uit te loop. Ek weet ek sal wel daaroor moet praat maar eers moet ek mooi daaroor dink. My Ma herhinder my gereeld dat ek my woorde mooi moet kies want dit mag swaar wees as jy hulle die dag moet sluk.

Staan sterk my liewe wag – staan sterk!

Susan se swangerskap

In my jong dae was Susan my idol – sy was ‘n kunsinnige 40something vrou wat haar nie aan te veel sosiale norme gesteur het nie. En haar boyfriends was altyd so 10 jaar jonger as sy.

Susan was ‘n musiek juffrou by ‘n Hoërskool en het huise in haar vrye tyd opgeknap en weer verkoop.

So in haar 42ste jaar val sy van die dak af – en beland pens en potjies in die hospitaal. Daar lê sy vir 16 weke intraksie vir haar gebreekte rug, pelvis, bene en arms. Gedurende die tyd kla sy gedurig omdat sy net vetter en vetter word van die gelêery. Groot was die skok toe sy na 16 weke regop staan en ons ALMAL mooi kan sien dat daardie boepie nie ‘n vettie boepie is nie maar swanger boepie !

Annabelle is ‘n paar maande later gebore – ten spyte van die medikasie en operasies wat haar Ma moes ondergaan was die wonderwerkie volmaak !

Die begrafnis

Vandag begrawe ons een van my beste vriende se Pa. Ek en Anton is seker al vir 35 jaar vriende. Sy Pa was een van die “grootste” mense wat ek nog ooit ontmoet het. Hy het sy vier seuns onvoorwaardelik lief gehad – elkeen met sy uitdagings, foute en onvolmaakhede.

Anton het in ons Graad 10 jaar al vir sy ouers vertel hy is gay en dit is die enigste huis waarvan ek weet waar dit GEEN verskil gemaak het nie. Hulle was net so lief, net so trots, met baie drome vir sy toekoms.

Dus trek ek vandag my swart suit aan en gaan sit voor die rekenaar – want weens COVID beperkings moet ek die diens kyk en mag ek dit nie bywoon nie. En dankie ESKOM – nou is daar load shedding en kan ek nie eers verder kyk nie.

Sit nou maar en huil hier in my hoek.

Die padda

Lang jare terug was daar op ‘n skoolkermis op ons kleine dorpie ‘n padda kompetisie.

Daar het ‘n slim man met baie paddas na ons skooltjie gekom om die kinders leer van verskillende paddas, hulle lewens siklus en beskermings meganismes. Hy het ‘n reuse afrika brulpadda gehad – James wat al meer as 15 jaar saam die slim man reis en navorsing doen.

En om die dag af te sluit is kinders gevra om paddas te vang en skool toe te bring om deel te neem aan verskillende padda kompetisies – die kleinste, die grootste, die een wat die verste kon spring en die hardste kon kwaak!

Ek en my Boetie moes ‘n padda deel – want Ma het net kans gesien om een padda te vang. Ek is eenvoudig net te bang en Boetie was nog klein en lomp. Ons padda se naam was Karen en sy kon vreeslik ver spring. Sy het los hande die verspring kompetisie gewen !

Die slim man was so beindruk met ons kleine paddatjie dat hy haar opsluit aangeneem het en saam hom gevat het. Maande later het ons ‘n poskaart van europa afgekry – die slim man het Karen  oorsee gevat 🙂

 

 

Depressiewe Drukkie-mens

Ek voel hierdie week erg emosioneel onstabiel ! Ek is rerig nie ‘n drama queen nie – ek huil, skop en skreeu amper nooit nie. Ek dink ek is ‘n beheervraat en daarom bly ek 99.8% van die tyd ook mooi in beheer van my emosies en denke.

Maar die hemel weet wat hierdie laaste twee weke met my aangaan? My emosies is op ‘n rollercoaster. Ek weet nie wat met myself aangaan nie. Ek  het wragtig op ‘n taxi geskreeu vanoggend – my man het amper die pad verlaat omdat sy “vloek in haar binneste” vroutjie sulke woorde ken en GEBRUIK!

Verder huil ek ‘n volle 10 minute saam ‘n video van ‘n olifant koei wat geboorte skenk – shame sy het nie eers ‘n epiduraal gehad nie en nou moet sy nog sukkel om die kleine olifantjie op sy voete te kry … boehoehoe … daar traan ek sommer weer.

Verder het ek tights en boots aan vandag – skaam jou dood vir hierdie vet vrou met haar verspotte kort bootsies en haar groen tights. Wel, ek gee eenvoudig nie om nie !

Kan ek depressief wees vir die eerste keer in my lewe ? Ek dink die tekort aan fisieke kontak is besig om my onder te kry !

Vriendelike groete

‘n Depressiewe drukkie-mens.

 

 

Wie is ek nou?

BC was avontuurlustig en het haar rugsak gevat en alleen deur Europa gaan toer – want sy kon ! AD gaan soms op Sondae alleen winkels toe.

BC het naweke by kosmarkte en expo’s uitgehang – vreemde kosse probeer en die mensdom bestudeer. Vir AD bestaan naweke nou uit: Hoe laat eet ons? Wasgoed. Is die kos al reg? Skottelgoed. Wat eet ons vannaand? Huisskoon maak. My magie huil, wanneer eet ons? Skoolwerk.

BC het gereeld gaan vakansie hou – of dit nou ‘n naweek in die berge of ‘n week by die see was. Tent en slaapsak op ‘n tazz se agtersit plek en BC was gelukkig. AD vat vakansie as die kinders siek is of daar niemand anders is om hulle op te pas nie.

BC het kerk toe gegaan, by haar familie gekuier, boeke gelees, ‘n opinie gehad en is aangehoor. AD is …

Daar is ‘n voor-die-huwelik weergawe van my (BC) and dan is daar ‘n huidige weergawe van my (AD).

Vandag probeer ek uitvind of BC selfmoord gepleeg het of is sy ver(s)moor?

Gedagte op ag-mei

  1. Elke mens moet verantwoordelik wees vir sy eie kat, hond, kraai of kind.
  2. Ek hou nie van maskers dra nie.
  3. Ek mis my haarkapper amper meer as my Ma.
  4. Die verbod op sigarette verkope en alcohol skeel my min – maar nou is daar gerugte dat die sjokolade gaan klaar raak – dit pla my !
  5. Mooi skoene maak my lewe beter 🙂
  6. Elke familie het ‘n weirdo – ek dink in ons familie is dit dalk ek.
  7. Ouma sou vandag 90 gewees het – hoop julle hou lekker party in die hemel.
  8. Hoekom lag mens as ander mense val?

Moenie die hand byt wat vir jou weelde sorg nie.

Dis eintlik ‘n ingewikkelde storie hierdie. My Ma se suster het nog nooit in haar lewe gewerk nie. Haar man was ryk, hulle het net een kind gehad en haar man het hard gewerk en mooi vir hulle gesorg. Ongelukkig het haar man hard gedrink ook en dan hard handig met hulle gewerk. Dus was die huwelik op die rotse net nadat Sus matriek geskryf het. Pappa het mooi gesorg vir haar dat Sus kon gaan swot en sy het ‘n goeie werk. Pappa het ook relatief mooi vir Tante gesorg na hulle egskeiding maar eers nadat die bank en die drank hulle eie happe gevat het.

Dus het Tante terug getrek na haar Ouers toe en saam met Anna die permanente huishulp het Sy hulle help versorg totdat dit nodig geword het vir hulle (al 3) om Oudtehuis toe te gaan. Tante is die jongste mens in die Oudtehuis maar voldoen darem aan die minimum vereiste van 65 jaar. Sus dra egter die meeste by om seker te maak dat Tante se lewenstandaard nie hoef  te kwyn nou dat sy in die Oudtehuis is nie.

Stenig my oor die opmerking maar my Tante het dus nog nooit in haar lewe gewerk nie EN het nog nooit enige finansiele bekommernis gehad nie want almal SORG vir haar !

Sus is nou ‘n Ma van drie kinders – twee mooi beplande kindertjies wat in haar laat 20’s gebore is en een onverwagse geskenkie wat nou in haar laaaat 30’s sy opwagting gemaak het.  Wanneer jy egter aan die stuur staan van ‘n Maatskappy is dit nie altyd moontlik vir werkende Mammas om 4 maande kraamverlof te vat nie – dus moes Sus noodgedwonge tydens haar kraamverlof soms vir ‘n vergadering of twee terug gaan werk toe.

En hier kom die rede hoekom ek vanoggend so ontsteld is: Sal my Tante my bel en uitpak oor hoe geldgierig Sus is – omdat sy haar Maatskappy eerste stel en nie die welstand van haar kind nie! EN dit alles omdat Sus vandag na ‘n vergadering toe is en haar 12 week oue Bulletjie by ‘n dagmoeder gelos het.

Sy wat nog nooit ‘n vinger gelig het om vir haarself te sorg nie wil vandag die hand byt wat vir haar weelde sorg.

 

 

Milkshakes, donuts en pecan pie !

Ek dink rerig ek moet ook een van daai kopdokters gaan sien – een wat bietjie sin kan maak van die kraaines hier tussen my ore !

Gister stuur die dokter my vir ‘n rits toetse – onder andere een vir die Groot K.

My Ouers, familie en BFFs is hoogs ontstel en bid sommer kliphard dat dit nie die Groot K sal wees nie.

En al waaraan ekke kan dink is milkshakes, donuts en pecan pie want mense wat besig is om dood te gaan hoef nie op dieet te wees nie.